Episode 24: Stefan van der Walt

 

Stefan van der Walt is ‘n deurwinterde sakeman met 32 besighede (oa Nikon en King Price Versekering) agter sy naam.

 

  • Vertel ons ‘n bietjie meer oor jouself.

Ek is 50 jaar oud en reeds die afgelope dertig jaar in besigheid. Ek was vir ‘n paar jaar in die korporatiewe wêreld voordat ek met my eie besighede begin het. Ek is een van daardie entrepreneurs wat elke paar jaar ‘n nuwe besigheid begin! Om die waarheid te sê het ek in die afgelope dertig jaar sowat twee-en-dertig besighede begin en opgebou. Ek het sodoende geleer waar al my foute gemaak is, en ek kan eerlikwaar sê ek geniet dit baie om ‘n besigheid te bedryf.

 

  • Watter een van die besighede uit die twee-en-dertig sou jy sê het vir jou die meeste uitgestaan?

Elke besigheid is uniek en elkeen het iets wat hom suksesvol maak, maar ek dink vir my is dit die eerste besigheid. Dit was die Nikon-besigheid wat taamlik klein in Suid-Afrika was toe ons hom gekoop het. Dit het maar slegs 5% van die markaandeel beslaan en na net drie jaar het ons reeds ‘n 50%-markaandeel bewerkstellig.

 

  1. Watter soort probleem los jou besigheid op?

Ek dink ek is in verskillende besighede in die ekonomie, so ons kyk maar na watter besighede daar nog oor tien of twintig jaar sal wees. Wanneer ons ‘n nuwe besigheid begin, kyk ons na iets wat anders is en probeer vasstel wat ons kan doen om die besigheid op te bou en uniek te maak. Ons het oorspronklik met King Price-versekering begin om integriteit vir die mense te bewerkstellig en ‘n goeie premie te kan bied wat laer was as ons kompetisie s’n. Dit het daartoe gelei dat die besigheidsplan suksesvol was. By Nikon voel ons weer dat ons daartoe bydra dat mense anders na die wêreld kyk. Ons begin besighede om ‘n verskil in mense se lewens te maak.

 

  1. Wat maak jou besigheid anders as jou kompetisie s’n?

Ek dink een van die belangrikste dinge waarin ek glo is dat diens deesdae ‘n baie groot faktor is. Met ander woorde, as jy net ‘n effens beter diens as jou kompetisie bied sal die kliënte jou besigheid suksesvol maak. Ek wil ook emosioneel by my kliënte betrokke wees.

 

  1. Hoe gaan jy te werk om nuwe kliënte te werf?

Ek vind met elke besigheid dat ek ‘n ander soort aanslag het as dit kom by kliëntewerwing. Byvoorbeeld, ’n versekeringsmaatskappy sal beslis nie dieselfde werk as jou fotografiebesigheid nie. Ek hou van “guerilla”-bemarking om meer selektief te wees. As mense van jou produk en diens hou sal hulle daaroor praat, want mense glo nie altyd alles wat hulle in die media lees nie; hulle wil eerder ‘n produk gebruik wat iemand vir hulle aanbeveel het. Ons doen baie gratis werkswinkels en dan is mense meer gewillig om hulle tyd op te offer. Ons reël ook heelwat gratis werkswinkels aan die begin om hulle opgewonde te kry oor die produk en dan komplimenteer hulle jou produk.

 

  1. Wat is tans of histories ‘n groot pyn in jou besigheid?

Daar is nie meer sterk senior bestuurders in ons land oor nie. Dis moeilik om ‘n goeie leier vir die besigheid te kry wat oor die regte ondervinding beskik. Mense wil ook nie meer eienaarskap neem van iets nie, so dit maak dinge nogal taamlik moeilik.

 

  1. Wat is die grootste besigheidsfout wat jy tot dusver gemaak het?

Jou grootste fout in besigheid is maar altyd waar jy verliese gely het. As ek na die grootste verliese wat ons gely het kyk, sou ek moet sê dit het by die bestuurder begin. My grootste probleem in die verlede was om die verkeerde mense aan te stel. Ek het later ook agtergekom dat ek net bietjie langer oor groot besluite moet dink en meer met mense daaroor moet praat; daar lê werklik waarde in.

 

  1. Hoe hanteer jy daardie oomblikke van onsekerheid of vrees?

As ek onseker is sal ek terugkom na iets toe; ek sal met mense gaan praat wat sukses in ‘n besigheid ervaar en hulle siening vra oor iets spesifiek. As dit egter by vrees kom – dis iets waarvan ek ver weg wil bly, want ek wil nie toelaat dat vrees posvat in ‘n besigheid nie, want dis dán dat jy begin foute maak.

 

  1. Watter sagteware of applikasie is vir jou baie waardevol?

Daar is so baie wat ons gebruik, maar ek sou sê die belangrikste vir my is die produk wat ek moet gebruik om daaglikse inligting vir my te kan weergee, want jy het daagliks inligting nodig om die regte besluite te kan neem. Mens moet net die regte program kry wat vir jou daardie inligting gee wat jy benodig en die funksies moenie té ingewikkeld raak nie.

 

  1. Wat is jou gunsteling-aanhaling?

“Oornagsukses neem ten minste tien jaar”, en “Moenie oorhaastig wees nie”. En daarmee saam ook “’n Goeie karakter sal altyd ‘n besigheid vorentoe neem”.

 

  • Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

Per e-pos:  stefan@premiumgroup.co.za, of webwerf: www.premiumgroup.co.za.

Wil jy jouself of jou besigheid verbeter?

Dalk droom jy van jou eie besigheid?

Begin dan hier met my besigheidshulpbron eBoek 52 propvol praktiese en eksklusiewe besigheids-en lewenswenke!
Laai af
close-link