Episode 34: Deon Roux – Die Besigheid

Vandag gesels ek met Deon Roux, die eienaar van Dry Ice International, waar ek fokus op sy besigheid.

 

Vertel ons ‘n bietjie meer oor jouself.

Ek is  30 jaar gelede in Pretoria gebore,  het grootgeword in Kempton Park, is daarna weermag toe en toe na Tukkies, waar ek meganiese ingenieurswese studeer het. Na my studies het ek by ‘n chemiese maatskappy in Germiston begin werk – SentraChem. Ek was  vir vier jaar daar en het onder meer optimisering gedoen. Daar het ek bietjie geleer van droë ys en gesien daar is ‘n geleentheid in die mark. Ek en ‘n vriend wat ek daar ontmoet het, ‘n chemiese ingenieur, het besluit ons gaan droë ys in Pretoria vervaardig en dan meer na die noorde toe versprei. In 1994 het ons altwee pakkette aanvaar en die besigheid hier begin. Dis nou 22 jaar later, en ek het hom sowat 12 jaar gelede uitgekoop en besit die besigheid nou alleen.

 

1. Gee ons ‘n opsomming van die tipe besigheid en industrie.

Net so vir interessantheid, droë ys is maar koolsuurgas, CO2, en dis wat jy in jou normale koeldranke kry, en ook in bier en sjampanje. Dis ‘n natuurlike gas in die atmosfeer. Ons kry ons CO2 vanaf  Afrox wat dit weer by Sasol kry. Sasol maak ammoniak en dan gooi hulle die CO2 weg, Afrox vang dit op en omskep dit in ‘n vloeibare vorm sodat dit na ons toe vervoer kan word. Wat ons doen is  om dit in droë ys om te sit en dan versprei ons die  soliede vorm dwarsoor Suider-Afrika.  Droë ys is baie koud – minus 80 grade!

 

2. Watse probleem los die besigheid op?

Temperatuurprobleme is loshande ons grootste ding. Elke internasionale vlug uit die land het kos op, en daardie kos moet koud gehou word. Die trollie wat op en af in die gang gestoot word as die lugwaardinne jou bedien, het ‘n klomp koeldranke en drank in. Daar is ‘n dun laaitjie bo-op en in daardie laaitjie word daar droë ys ingepak en dit hou alles koud. Verder is ons ook betrokke by uitvoere. Suid-Afrika voer baie vleis en kos uit en dit moet koud gehou word. As die kratte op Heathrow Lughawe getoets word en dis nie onder 7 grade nie, gooi hulle eenvoudig alles weg. Vrieskaste is te swaar, so droë ys is ‘n metode om koud te maak sonder om ‘n eksterne kragbron te gebruik.

Voorsien jy nog meer aanwendings met  hierdie produk?

Droë ys het sedert 20 jaar gelede ‘n ver pad gestap vanwaar dit destyds  tipies geassosieer is met die roomyskarretjie en ander straatverkopers. Maar droë ys is ‘n fenomenale produk – dit word byvoorbeeld in die ingenieursbedryf ook gebruik en ons het selfs drie nuwe “brands” geskep: (1) Dry Ice For Engineering, waar droë ys in plaas van die baie gevaarlike stikstof gebruik kan word as jy byvoorbeeld bearings op ‘n as wil inpas.  (2) Dry Ice for Emergencies, is vir wanneer die krag in ‘n omgewing af is om welke rede ookal, en binne 4 of 5 ure begin die inhoud van die vrieskaste ontvries. Ons kan binne ‘n uur of twee droë ys in Gauteng aflewer, wat sowat 24 tot 48 uur se gemoedsrus waarborg. (3) Dry Ice For Leisure. Kom ons sê jy gaan vir ‘n naweek weg,  en jy pak jou koelhouer vol gevriesde vleis. Dan sit droë ys bo in en daardie vleis gaan gevries bly vir 5 tot 10 dae. Of anders kan jy ‘n tydelike yskas bewerkstellig deur droë ys onder in te pak, dan ‘n lagie yswater en dan pak jy jou kos en drank in. So jy het ‘n koelhouer met ‘n vrieskas aan die onderkant en ‘n koelhouer aan die bokant. Daar is dus  wye toepassings. Teen -80 grade is droë ys ongeveer sewe keer sterker as gewone ys van -10 grade, maar die grootste voordeel is dat daar geen water is wat kan verdamp – of sublineer, volgens die wetenskaplike term – hy verdamp sommer in ‘n gas in.

 

3.Wat maak jou besigheid anders as jou kompetisie?  Dit klink vir my julle is baie gediversifiseer in die aanwendingsgedeelte van die produk?

Wat ons anders maak is ons kreatiwiteit en innovasie. Ons is voortdurend besig om nuwe aanwendings uit te vind.

 

4. Wie is julle teikenmark of ideale kliënt?

Ek het vroeër versuim om een ding te noem, en dis ‘n tweede deel van ons besigheid wat ook eintlik deel is van ons teikenmark – Dry Ice Blasting of Droë Ys Blaas-skoonmaak. Ons pars die droë ys in ‘n korreltjie wat soos rys lyk. Dis baie grof en hard en jy gebruik dit presies soos wat jy sandblasting sal gebruik. Dis ‘n industriële droogskoonmaakproses sonder die aggressiwiteit van sand, so my ideale kliënt is in die elektriese industrie.

 

5. Wat is die grootste besigheidsfout wat jy tot dusver gemaak het en wat het jy daaruit geleer?

My grootste fout wat ek gemaak het iwas dat ek ‘n fabriek gehad het wat vervaardig het, so mens het vervaardigings oerusting nodig. Ongelukkig het ek tipies op ons boere-manier gaan  gaan goed bou en bymekaar gesit, en ouer toerusting gebruik want ek het nie geld gehad nie. Dit was beslis ‘n fout. Nou weet ek, uit ondervinding, dat ‘n mens die  beste toerusting wat geld kan koop moet kry, asook ‘n goeie finansierder, en jy moet seker maak jy’t ‘n goeie besigheidsplan. En baie belangrik: koop die beste wat geld kan koop as jy in vervaardiging wil ingaan, want as intrepreneur is die laaste ding aroor wil bekommerd wees of jou masjiene werk of nie. Ek het presies dieselfde fout met voertuie gemaak, ons het goedkoper voertuie gekoop en dit was ‘n groot fout, want jy is gedurig besig om voertuie in te sleep en reg te maak. Koop nuwe goed, koop goed met motorplanne, en jy bekommer jou nie verder nie.

 

6. Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf?

Ek kom uit ‘n era waar sosiale media nie ‘n groot rol gespeel het nie, maar ek het intussen besef dit is geweldig belangrik. Vir besigheid tot besigheid gebruik ons spesifiek LinkedIn en  ook Facebook. Ons webblad is ook baie belangrik, asook SEO en Google Ads, industriële mynbouskoue en Elektra Mining elke tweede jaar en een maal ‘n maand ‘n mynbouskou in ‘n omgewing waar daar ‘n konsentraat van myne is.

 

7. Wat is tans of histories ‘n groot pyn in julle besigheid?

Ek sal maar praat van tans – dit gaan maar oor die politieke klimaat in die omgewing waarin ons is. Ek is nie ‘n groot voorstaander van ras-gebaseerde wette nie, spesifiek in terme van entrepreneurs. As ‘n stelsel val omdat daar nie genoeg opvoeding is in terme van skool- en tersiêre opvoeding nie, behoort dit nie ‘n entrepreneur se probleem te wees deur wette op hom af te dwing en te sê jy SAL mense met ‘n fisiese uiterlike eienskap aanstel nie. Dis eintlik so lagwekkend soos om te sê ek gaan net ouens met blou oë in my besigheid aanstel want iemand wat iewers in ‘n raadsaal gesit het en politiek speel het besluit ons gaan net blou-oog mense aanstel. Dit skep ‘n probleem, want entrepreneurs is baie kreatief en as ‘n wet op hom afgedwing word gaan hy ‘n ander plan maak, maar ek glo dit verhinder ‘n entrepreneur se kreatiwiteit.

 

Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?
Ek is altyd beskikbaar via my e-pos: deon@dryice.co.za

 

NB! Onthou om na Deon Roux as mens se onderhoud te luister.

Wil jy jouself of jou besigheid verbeter?

Dalk droom jy van jou eie besigheid?

Begin dan hier met my besigheidshulpbron eBoek 52 propvol praktiese en eksklusiewe besigheids-en lewenswenke!
Laai af
close-link