Episode 56 (Deel 1): Elmar Conradie


Die Klipkouer met wie ek gesels is Elmar Conradie, wat die CEO is van Safair een van die budget, lugrederye in Suid-Afrika. ’n Fassinerende gesprek ook is hoe hierdie lugredery hulself herdefinieer en te werk gaan en, in baie opsigte, ’n internet maatskappy is aan die een kant wat toevallig mense vlieg aan die ander kant. Dit was ’n lang gesprek gewees met belangrike inligting wat daaruit gekom het en wou ek, weereens, nie inligting uitsny nie en het dus dit in twee verdeel. Hiermee dan deel 1 van my onderhoud met Elmar Conradie, CEO van Safair.

Hallo Klipkouers. Ek is Elmar Conradie, CEO van Safair en meer bekend in Suid-Afrika as FlySafair, die nuutste lae koste lugredery in Suid-Afrika en ek sien uit daarna om met julle te gesels.

  1. Elmar, vertel ons ’n bietjie meer oor jouself.

Jacques, ek bly tans in Centurion in Pretoria en onlangs soontoe getrek en kan myself offisieel ’n Pretorianer noem. Ek is nog nie seker of ek gaan skuif van my span, die Cheetahs nie, maar ja. Ek het grootgeword in Odendaalsrus in die Vrystaat. Gewoonlik as iets daar gebeur het en dit haal die nuus dan het die nuus altyd gesê, “iets het gebeur tussen Allanridge en Welkom.” Getroud met Nicolette en het drie kinders, twee seuns en ’n dogter. Ek het by Kovsies geswot as geoktrooieerde rekenmeester en direk na universiteit het ek Johannesburg toe getrek en begin werk, in daardie tyd, by Coopers & Leibrandt en later nadat hulle saamgesmelt het met PricewaterhouseCoopers oftewel, PwC. Daarna het ek so drie jaar gewerk by Macquarie Bank in Suid-Afrika. Hulle het ’n finansieringspan projek gehad wat gewerk het op die tolpaaie en, toevallig ook ACSA waarmee ek ook nou baie mee te doen het. In 2005 het ek by Safair gaan werk as finansiële direkteur.

Sjoe, Elmar net voor ons ernstig raak hier, daar is ’n belangrike man wat uit Odendaalsrus kom, behalwe jý nou.

Ja, ek ken Jannie de Beer.

Dis hý! So net vir die Klipkouers daarbuite, dis waar Jannie de Beer vandaan kom en hulle was in dieselfde skool gewees. So Odendaalsrus het sy goud wat nie net uit die grond uitkom nie.

  1. Vertel ons ’n bietjie meer en gee ons ’n opsomming van die tipe besigheid en industrie wat jy aangepak het?

Soos ek gesê het, die meeste mense sal ons in Suid-Afrika ken as FlySafair en dit is ons lae koste lugredery gedeelte van ons besigheid. Ons vlieg tans na sewe bestemmings in Suid-Afrika en elf roetes en dit gee ons so 12% van die mark. Die sewe bestemmings is basies al die groot lughawens in Suid‑Afrika, behalwe Bloemfontein soos my familie my graag sal wil uitwys. Die groot rede daarvoor is dat ons met groot vliegtuie vlieg. Ons vliegtuie se kapasiteit begin met 165 sitplekke en dit gaan op na 189 sitplekke en dit is hoekom dit meestal tussen die groot stede is want ons het die passasier volumes nodig.

Die ander gedeelte van ons besigheid is wat ons die “legacy” of tradisionele gedeelte van ons besigheid noem. Dit is humanitêre hulp tipe werk soos vir die Verenigde Nasies, World Food Programme, Red Cross en so aan. Ons het ses Hercules vliegtuie. Baie Suid-Afrikaners sal hulle ken as Flossies waarmee hulle in die weermag gevlieg het maar dit is die kommersiële weergawe en nie die weermag weergawe daarvan, wat ons gebruik. Ons doen goed vir Red Cross en World Food Programme soos “food drops” waar ons omtrent 18 ton se voedsel in die vliegtuig het en dan vlieg ons na plekke waar hulle nie kan bereik nie, gooi die voedsel agter uit die vliegtuig uit op ’n mooi wit kruis wat geteken is op die grond.

Met ’n parachute natuurlik?

Ja, dit hang af. Daar is verskillende weergawes daarvan maar ons vlieg so laag met die vliegtuig dat dit nie nodig is nie. Die voedsel is in baie sterk goiingsakke en dit is baie vinnig. Daar is twee rye voedsel van nege ton elk en daai nege ton val uit die vliegtuig uit in omtrent twee sekondes. So jy gooi nie rêrig mis nie, want binne twee sekondes is dit uit die vliegtuig uit en waar jy dit wou gehad het.

Dit is basies waar ons besigheid begin het en ons was al in alles gewees. Ons het al instandhouding werk gedoen. Hoe die hele ding ontstaan het, was dat ons het altyd gevlieg vir meeste van die ander lugrederye in Suid-Afrika. Toe Kulula begin vlieg het, was ons die eerste vliegtuie wat namens hulle gevlieg het en ons het al vir elkeen van die ander lugrederye in Suid-Afrika gevlieg en toe die laaste was eintlik 1Time gewees. Dit is waar die hele ding ontstaan het nadat 1Time ondergegaan het en ons gesien het hier is ’n groot leemte in die mark en moet ons nie maar daarna kyk nie.

As ek reg kan onthou, Elmar, het julle nie namens British Airways gevlieg ’n paar jaar gelede nie?

Ja dit is reg maar dit is British Airways wat gevlieg word deur Comair. Comair het die twee handelsmerke, Kulula en British Airways. Ons het in ’n stadium amper meeste van hul vliegtuie onderhou en ons het van hulle vliegtuie vir hulle gevlieg.

Sê nou vir my, jy het ’n interessante ding genoem en gepraat van 165 sitplekke en ons het gepraat van Bloemfontein. Natuurlik gaan alles oor volume maar is daar ’n minimum hoeveelheid passasiers? Waar is daai afsnypunt as ons nou, byvoorbeeld, praat van Bloemfontein, waar is daai afsnypunt wat sê, ons gaan nie meer as 100 of X in hierdie vliegtuig kry nie en dit is nie die moeite werd nie?

Ons doelwit is om so 80% sitplekke vol te maak. Natuurlik wil jy dan hê dat seker tye soos vakansietye en oor naweke moet die vliegtuig 100% vol wees, maar gemiddeld probeer ons 80% van ons vliegtuig vol te maak.

En natuurlik help dit nie jy vlieg net een keer ’n dag soontoe nie. So nou moet jy begin dink dat as jy tweekeer ’n dag soontoe vlieg beteken dit is 320 mense ’n dag wat soontoe moet vlieg en is daar 300 mense wat elke dag soontoe wil vlieg?

Ek sien. Sê vir my, ons het vroeër, voor die onderhoud, gesels oor hierdie super commuters. Die manne wat in George en Kaapstad gaan bly en dan vlieg Johannesburg toe en so aan. Jy het genoem dat party van hierdie ouens bespreek 64 vlugte vooruit – Vrydag en Sondag?

Ja, jy kan hulle herken aan hulle besprekings patroon en sien dat hulle is super commuters.

Wat verteenwoordig dit oor die jare as ’n persentasie van julle besigheid? Is dit ’n groot gedeelte of hoe lyk daai 80% wat die vliegtuig volmaak op hierdie stadium?

Nee, daardie gedeelte is nie baie groot nie. Ek sal sê dit is minder as 2% van jou kliënte. Die meeste van ons kliënte is steeds die wat een keer of twee keer ’n jaar vlieg en dan is daar die een deel van die mark waar ons nog baie sukkel om in te breek is, die korporatiewe wêreld. Ons vlieg eintlik nog net so bietjie meer as twee jaar kommersieel en die korporatiewe wêreld is maar moeilik om by in te kom. Hulle het almal kontrakte met SAA en British Airways en daai tipe van ouens en hulle kry Voyager Miles en Aveos en daai tipe van punte. Dit is baie moeilik om in daardie mark in te breek. Ons mark is meestal wat ons die “leisure” mark noem.

Is julle eg Suid-Afrikaans? Ek dink nou aan British Airways wat nou Brits is. Wat is Safair? Is dit ’n Suid-Afrikaanse maatskappy?

Ja, ons is geheel en al ’n Suid-Afrikaanse maatskappy en ons bestaan eintlik al 52 jaar hierdie jaar. Ons het 25% van ons aandeelhouding wat deur oorsese beleggers besit word maar ons is Suid-Afrikaans.

Julle moet daai deuntjie hard speel. Die Suid-Afrikaners moet Suid-Afrikaans ondersteun.

  1. Wat maak die besigheid anders as julle kompetisie? Jy het Kulula genoem so vertel ons wie is daai kompetisie huidiglik en wat maak julle anders?

Ons grootste kompetisie is maar Kulula en Mango omdat ons al drie bemark onsself as lae koste lugrederye en ons kompeteer erg met mekaar op prys. Maar ons kompeteer maar met almal. Ons onderskei nie wie is ons kompetisie nie. Ons probeer dieselfde passasier wat op British Airways of ’n SAA vlug sal vlieg, probeer ons ook lok na ons toe. Dit is moeilik want lugrederye het maar so ’n bietjie van ’n kommoditeit geword. Almal vlieg dieselfde vliegtuie, almal se sitplekke is min of meer dieselfde. Almal het min of meer dieselfde tye na die bestemmings toe en dit raak verskriklik moeilik om jouself te onderskei.

Maar ons het ’n paar goed. Natuurlik, op prys het ons onsself onderskei in die mark. Ons is ook die eerste lugredery in Suid-Afrika wat ons prys heeltemal ontbondel het. Die ouens in Europa sal presies weet waarvan ’n mens praat soos, byvoorbeeld, jy betaal vir jou tas en dit is nie deel van jou vlugkaartjie prys nie en jy moet betaal vir al die ander goed. Jy kry niks gratis by nie. So die kaartjie is verskriklik goedkoop maar jy moet betaal vir jou tas, jy moet betaal as jy jou spesifieke sitplek wil bespreek. Natuurlik hoef jy niks van daai goed te vat nie en jy kan dus baie goedkoop vlieg.

Aanvanklik het dit ons nogal baie probleme gegee veral vanaf die publiek in Suid-Afrika. Ek dink die publiek in Suid-Afrika is nogal baie bederf oor wat die lugrederye vir hulle aangebied het. Maar ek moet sê dit het baie gou verander. Baie gou het die publiek agterkom dat hierdie werk eintlik vir hulle. As jy vir ’n besigheid vlieg het jy nie altyd ’n tas by jou nie en as jy met jou familie vlieg hoef jy nie vir elkeen ’n tas te vat nie. So jy kom gou agter maar hierdie is eintlik nie so erg nie. Ons sien dat omtrent net 40% van ons passasiers neem tasse.

Die ander ding wat ons reg in die begin gesê het, was ons gaan fokus om ’n verskriklike operasioneel effektiewe besigheid te hê. Ons gaan fokus om byvoorbeeld stiptelik en op tyd te wees wat bietjie anders is as meeste lae koste lugrederye ‑ dit is nie rêrig hul fokus nie, want daar is partykeer koste-implikasies om jou stiptelikheid so te dryf maar ons het besluit ons gaan nie ’n kompromie daarop aangaan nie. Laas jaar was net onder 96% van ons vlugte op tyd gewees. Dit klink sleg maar as jy dit vergelyk met die kompetisie, as jy dit opbreek en sê een uit elke hoeveel vlugte was vertraag gewees,dan het ons kompetisie 1 uit elke 7 of 8 vlugte met ’n vertraging geloop terwyl ons het 1 uit elk 23 vlugte wat vertraag was en dit is nogal ’n groot verskil.

Dit is fantasties! Dit is ’n ding wat vir my persoonlik baie grief, is die probleem met stiptelikheid. Maar natuurlik, verduidelik ’n bietjie vir die Klipkouers, watse impak het die lughawe op jou stiptelikheid? Aan die einde van die dag as iets verkeerd loop met die tas wat inge-check word, as iets daar verkeerd loop of die passasier is nie aan boord nie en sy tas is en so aan, dit is uit julle hande uit. So hoeveel beheer het julle oor daai hele proses rêrig?

Jong, daar is verskriklik baie goed wat ’n mens daar kan beïnvloed en die manier hoe ons sorg dat ons ons stiptelikheid behou is dat ons baie streng is met party van ons reëls. Soos, byvoorbeeld, ons is baie streng daaroor dat ons vlugte vir die incheck tye 40 minute afsluit sodat ons genoeg tyd het om passasiers te soek wat nie opgedaag het nie en/of tasse af te haal van die vliegtuig af. Maar, eerstens belangrik, die rede hoekom lugrederye die check-in toonbanke toemaak is sodat ‑ verskoon al die Engelse terme ‑ is ons moet die “weight and balance” van die vliegtuig nog doen. As die vliegtuig te laat toemaak en jy weet nie hoeveel tasse en hoeveel passasiers het jy nie, dan kan dit ’n vertraging veroorsaak.

Die volgende ding is die mense moet nog deur sekuriteit gaan. Sekuriteit is partykeer die grootste probleem by die lughawens want dit neem die langste om daardeur te kom en as jy nog daar vertraag word ‑ dan moet jy nog by die hek kom. Maar meeste van die tyd as jy eers deur sekuriteit is, is die lughawe gedeelte wat jou kan vertraag verby. Dan kan jy ontspan. Die volgende ding wat jou dan vertraag is die weer – ons kan nie opstyg nie, want daar is slegte weer by die bestemming of selfs slegte weer van waar jy vertrek en dan natuurlik die lug verkeer kontroleerders. As daar slegte weer vroeër in die dag was en hulle moet nou probeer opvang met al die ouens wat vroeër vertraag was en daar is vyftig vliegtuie in ’n uur wat probeer land, dan kan jy nie noodwendig jou vertrektyd kry wat jy veronderstel is om te kry nie.

Almal het geskeduleerde tye maar dit is baie vloeibaar deur die dag waar die lugverkeer kontroleerders kyk, gebaseer op die weer, waar die vliegtuie is voordat jy kan vertrek. So daar is verskriklik baie logistiek agter die beplande vertrektyd van ’n vlug.

NB! Indien jy verlede week se KPS oor Ina Paarman gemis het, gaan luister gerus nou: Kliek hier

Wil jy jouself of jou besigheid verbeter?

Dalk droom jy van jou eie besigheid?

Begin dan hier met my besigheidshulpbron eBoek 52 propvol praktiese en eksklusiewe besigheids-en lewenswenke!
Laai af
close-link