KPS Episode 6: Ina Paarman

Welkom by die Klipkouer Prontuit Sessie oftewel, KPS. Die idee agter hierdie video en audio sessies is addisionele praktiese advies wat uit die vorige week se potgooi onderhoud uitgegrou word in die vorm van ’n bespreking deur my, Jacques Basson en mede‑entrepreneur, Tiaan de Jager. KPS episode 6 kom uit my onderhoud met Suid‑Afrikaanse ikoon en baie bekende kos handelsmerk, Ina Paarman.

 

Jacques: Hallo Tiaan.

Tiaan: Hallo Jacques, lekker om weer te gesels.

Jacques: Hoe gaan dit met jou?

Tiaan: Nee lekker. Die weer draai nou ongelukkig hier in die Kaap. Ons het steeds nie reën gekry nie, maar ons hou maar aan bid.

Jacques: Maar op ’n positiewe noot, ek sien hierdie week en dit sluit ook mooi by ons onderhoud aan waarin ons ’n bietjie dieper gaan delf,dat Zuma skep werk in Suid-Afrika sonder dat hy weet, want die Rand is besig om te verswak en dit is baie goeie nuus vir vervaardigers.

Tiaan: Ja, die laaste ding wat ek wil doen, is om politiek te gesels.

Jacques: Ek het gesê, positiewe noot, hy skep werk. Dit sluit nou mooi aan by ’n verswakte Rand wat natuurlik goeie nuus is vir vervaardigers in Suid-Afrika en, natuurlik, ’n tweede week van ’n onderhoud met ’n absolute Afrikaanse ikoon en sekerlik die bekendste Afrikaanse handelsmerk. Baie mense kyk na haar naam terwyl hulle aandete eet, naamlik Ina Paarman.

Tiaan: Ja, ek dink Ina Paarman se naam is amper soos Pam Golding s’n in die eiendomsbedryf, almal is bewus van haar maar dit is natuurlik verkillende besighede maar baie bekend en beroemd.Ek weet nie hoe jy al hierdie gesprekke lostrek nie, maar dit is wonderlik dat jy met hierdie invloedryke mense kan gesels en dit is altyd goed om na hul stories te luister.

Jacques: Jitte ja, Tiaan, ek is absoluut bevoorreg om met haar te kon gesels het en wat ’n inspirerende storie. Ek dink om weg te spring, een van die goed waarmee almal die naam Ina Paarman assosieer is met absolute gehalte, ’n mens hoef nie daaroor te twyfel nie. Sy het dit baie duidelik gemaak dat van die begin het hulle uit hul pad gegaan om vars bestanddele te kry.

Sy vertel die storie waar sy nie kon vars kruie in die hande kry nie en uiteindelik by ’n hippie egpaar wat vars kruie groei uitgekom het en die ouhet in sy kar se kattebak vars kruie gebring een keer ’n week. Dit is hoe sy vars kruie in die begin in die hande gekry het. Dus speel die vars bestanddele’n groot rol. Vars bestanddele en hoë gehalte bestanddele is gelyk aan ’n hoë kwaliteit produk. Jy het byvoorbeeld vroeër ook genoem, toe ons gesels het, van Sally Williams Nougat.

Tiaan: Ja, jy is honderd persent reg. Die kwaliteit van Ina Paarman is definitief wat haar laat uitstaan. Sy moet haarself onderskei van haar kompetisie en sy het self genoem dat dit soos ’n dolk deur haar hart is as iemand wel – op die min geleenthede – ’n klagte teen die produk inbring want hulle is gerig op kwaliteit en dit is wat hulle onderskei van hul kompetisie. Soos met Sally Williams – dit is nou weer ’n ander aspek daarvan – hulle het nooit groot geld bestee aan bemarking nie. Die handelsmerk is sterk genoeg om homself deur al dietye te dra.

Jacques: Natuurlik is die bewys van die kwaliteit van Ina Paarman se produkte in die feit dat – en dit was vir my ongelooflik om te hoor en, jy het ook so gesê – hulle het nog nooit ’n bemarkingsbestuurder gehad in die geskiedenis van die besigheid nie. Ek meen, dit is ongelooflik! Dit is nou waar ’n produk die praatwerk doen.

Tiaan: Ja, dit is waaroor ek en jy wil gesels. Hoe bemark jy ’n voedsel en drank tipe van besigheid? Ek dink dit is dan miskien ’n swak voorbeeld om Ina Paarman te gebruik want sy kan staatmaak op haar naam. Háár naam dra haar deur al die tye en as jy dink aan heeltemal die ander kant van die spektrum, die nutsmaatskappye soos Eskom en Telkom en daai ouens. Hulle hoef nie te bemark nie, maar hulle bestee baie geld aan bemarking en dit is ’n onnodige uitgawe want almal het elektrisiteit nodig en alle besighede het ’n telefoonlyne nodig. Dus hoekom hulle hulself bemark maak nie altyd sin nie maar kykjyna ’n “vir wins” of “for profit” besigheid soos Ina Paarman of enige iemand wat voedsel en drank bemark – jy moet jouself bemark want daar is soveel kompetisie in dié mark. As jy dit nie doen nie, bly jy agter.

Jacques: Absoluut! Kom ons kyk dan, want jy het ’n belangrike punt aangeraak in terme van die bemarking, so een persoon wat hulle wél onlangs aangestel het, is ’n besigheidsontwikkelingbestuurder. Een van die goed veral in Suid-Afrika, die tradisioneel plek as jy volume soek is die supermark. Hoe kom jy nou voor die aankopers van die supermark? Suid-Afrika is histories baie sterk. Daar is ’n hele paar verkope en bemarking agentskappe wat jy kan gebruik om die produk in te kry maar in hierdie geval, omdat hulle groot was, kon hulle direk inkom.

Wat egter vir my uitgestaan het Tiaan – en ek bedoel dit was my agtergrond in my Suid-Afrika dae – is om met hierdie aankopers te deel is moeilik want hulle is aggressief en ongeskik. Vir die Klipkouers daarbuite, as jy dink ek jok, gaan luister na die onderhoud met Ina toe ek vir haar sê, “ja hierdie ouens is tradisioneel aggressief”, toe sê sy,“ja hulle is baie aggressief.” So jy sit daarmee aan die een kant, aggressiewe aankopers wat – ongeag die feit dat dit Ina Paarman is wat hiér instap met hierdie hoë gehalte produk ‑ steeds nog aggressief met haar is.

Dus as jy wegspring gaan jy ’n harde tyd hê en hulle gaan jou druk van alle kante af maar dan het ons die goeie nuus, Tiaan, en dit sluit nou weer aan by wat ons nog heeltyd sê, die tema van die internet en aanlyn besigheid. Dit is ten minste die goeie nuus van wat aan die gebeur is in die wêreld, die aanlyn verkope.

Tiaan: Jy het self vir Coke en Parmalat gewerk en jy weet jy moet veg vir jou rakspasie. Baie mense is nie bewus daarvan nie, maar as jy by ’n supermark instap, die produkte wat wen is die produkte wat op oog vlak voor jou uitgestal is op ’n rak. Die ander manne wat agter trek is heel onder of heel bo-op die rak en hulle kry nie dieselfde aftrek as dié wat op oog vlak uitstal nie. Dit word alles verwyder die dag as jy aanlyn gaan. Dan verander alles want dan gaan dit hoe goed jy jouself aanlyn kan bemark.

Jacques: Dit is ’n goeie punt. Ek onthou ons het altyd gesê “eye level is buy level” en is heel moontlik nog steeds die gesegde. Dit is so belangrik wat jy aanraak want natuurlik met aanlyn is daardie “reviews” met ander woorde wat sê mense van die produk versus is dit omdat ek meer geld spandeer en ’n groter bemarking begroting het of die aankoper meer van my hou en nou is my produk op oog vlak versus wat dink ander verbruikers van die produk.

Dit maak absoluut die speelveld gelyk.’n Interessante ding wat gebeur het in die week is dat Jeff Bezos wat die CEO en stigter van Amazon is – nou ek weet Amazon is so groot en hulle kyk nog net vir Takealot uit en dit is nie óf hulle Takealot gaan koop nie, maar dit is wanneer. Ek sal verbaas wees as Takealot nie in die nabye toekoms gekoop word deur Amazon nie, maar – hy is nou die derde rykste man in die wêreld. Hy het nou net vir Warren Buffett wat derde was verbygesteek en dit sê vir jou wat aan die gebeur is met Amazon. Nou kyk, ons het Amazon hierdie kant maar ek sê vir jou ek dink ons spandeer al 50% van ons begroting, ons kruideniers begroting, spandeer ons met Amazon wat by ons huis kom aflewer.

Tiaan: En hulle is eintlik maar net ’n courier besigheid.

Jacques: Hulle is ’n courier besigheid maar wat interessant is, Tiaan, is dat almal hou van hulle. Die vervaardiger en die verskaffer is lief vir Amazon en ek as verbruiker, is lief vir Amazon want Amazon gee rêrig vir my om en omdat hy ’n courier besigheid is, wat jy tereg uitwys, druk hy nie die verbruiker nie. Wat beteken dat hy baie meer pro die vervaardiger is eerstens en dit beteken die vervaardiger maak meer geld.

Kom ons wees eerlik. As ons dink aan melk in Suid-Afrika – die arme boer kry nie genoeg geld nie, maar dit is omdat Pick ’n Pay, Shoprite, Woolworths en Spar die prys te laag hou want hulle wil jou inbring en sit dus druk op die verskaffer. Baie ouens besef dit nie en blameer altyd vir die boer of Parmalat of Clover. Dit is nie hulle skuld nie. Dit is die supermark se skuld.

Tiaan: Ja, die supermarkte het vir die afgelope 30 – 40 jaar die perfekte besigheidsmodel gehad. Hulle betaal jou 90 dae laat wag vir betaling maar as jý daar instap moet jy kontant betaal en dus het hulle altyd ’n ongelooflike goeie kontantvloei situasie en hulle swaai die septer want dit is waar mense gaan koop.

Ek dink dit is dalk ’n goeie idee vir ’n toekomstige geselsie. Hoe gaan die winkels en die supermarkte hulself “re-invent” om nog steeds voor te bly want ek ken baie mense wat deesdae al hul aankope of hulle kos en vars produkte alles aanlyn koop en dit word by hulle huis afgelaai. Baie mense sit nie eers meer voete in ’n mall nie. Die besighede moet hulself ook “re-invent” en herontdek en skaaf aan hul besigheidsmodel om nie onder te gaan nie.

Jacques: Dit is ’n belangrike punt en tussen my en jou, ek hoop hulle vat nog langer om aan te pas want ek wil sien hoe die aanlyn verskaffer – ek wil sien hoe daai boer met sy webwerf direk aan jou sy groente kan kom aflewer en, natuurlik, dit is waar die werklike werk geskep word en die rykdom verdeel word.

Want ja, dit is seker een van die winsgewendste besigheidsmodelle van die 20ste en 21ste eeu naamlik supermarkte. Dit is basies net ’n vertoon winkel en dan betaal jy hom om jou produk op sy rak te sit en dan betaal jý as jy ’n promosie doen. Die supermark handhaaf sy marge maar jýlaat val jou marge en dan, as jy gelukkig is, sit hy jou dalk bo of onder op die rak.As jy baie meer betaal, kom jou produk op oog vlak en dan wil hy nog met jou aggressief raak en jou dreig as jy nie vir hom die prys wil gee en die marge wat hy wil hê nie. Dit is nie hoe ’n mens besigheid doen nie en dit gaan hulle hard in die gat nog byt.

Tiaan: Natuurlik en ja, hulle het altyd die koopkrag gehad en dit is vir my erg as ek vir ’n Sondag na ’n wynplaas toe gaan en ek wil vir my ’n kas wyn gaan koop by ’n bekende wynplaas en ek betaal daar R30 duurder as wat ek vir dieselfde wyn in die supermark moet betaal.Die supermarkte het die koopkrag omdat hulle groot volumes koop en dus kan hulle die prys onderdruk. Dit maak eintlik nie logies sin nie, maar ’n mens verstaan dit van ’n besigheids perspektief af.

Jacques: Ja, natuurlik is die volume daar maar ek dink, weereens, vir die ouens daarbuite wat dalk nie die supermark of die “retail” model goed verstaan nie, dit werk vir sekere verskaffers.Op die ou end is dit net, ek wil amper sê, en wyn is ’n goeie voorbeeld, Tiaan, ‑  die ou maak ’n klein bietjie geld maar hy sien dit as ’n betaalde bemarkingsgeleentheid meer as iets anders.Hopelik gaan jy Sondag op die wynplaas kom eet en R30 meer betaal vir die wyn.

Dit is jammer dat dit die enigste manier is hoe die ouens kan blootstelling kry en ’n bietjie volume deur hulle besigheid maar dankie Vader, die ouens raak nou bewus van die aanlyn model. Selfs hier by ons in Engeland is ons bevoorreg want ons het baie organiese vrugte en groente en algeheel het die pryse kwaai begin valmaar ons koop dit direk van die plase. Goed, daar is ’n middelman ons noem hulle Abel & Cole maar hulle sê vir my waar my appels vandaan kom. Dit kom van Oom Piet se plaas in Kent en dus weet ek en is gelukkig om daardie premie te betaal want ek weet Oom Piet kan nou ’n bestaan maak op sy derde generasie plaas.Andersins sou Tesco, wat ons Pick ’n Pay is hier, vir hom uitgedruk het en net gesê het jammer ons koop daai appels in Suid-Afrika. So die supermark model werk vir sekere besighede en industrieë maar ek dink nie dat dit in die algemeen goed is vir die gemeenskap en vir rykdom verdeling nie.

Tiaan: Ja, dit raak interessant en die groot ding is dat ons begin al hoe meer kyk na die sosiale impak ook. Daar word minder gemors en dus betaal dalk ’n klein marge om iets direk van ’n plaas te koop want die boer verkoop nie in groot volumes nie, maar hy kyk na sy kliënte. As jy dink aan hoeveel vars produkte deesdae weggegooi word omdat in groot maat aangekoop word en as dit nie binne 24 of 48 uur verkoop nie dan gooi supermarket dit weg want hulle wil net vars produkte verkoop. Hulle kan dit nie weggee nie, want as iemand siek word daarvan dan word hulle aangekla van voedselvergiftiging.

Snaaks hoe dit ’n vol sirkel loop van hoe, in die begin, op klein markte verkoop was – die boer aan die verbruiker – toe aan die groot “retail” winkels en nou beweeg ons weer terug na die boer en die verbruiker. Dit is hoe die tye verander.

Jacques: Absoluut en, weereens, dit is ’n waardevolle punt wat jy maak en dit is seker een van die grootste euwels van supermarkte regoor die wêreld, daardie wetgewing wat ’n rakleeftyd voorskryf en daai rakleeftyd is ’n mite.Die produk kan gewoonlik nog ’n week langer hou maar die supermark gaan nie die kans vat dat jy hom gaan dagvaar as hy jou vergiftig nie, maar raai wie betaal vir daai voorraad wat hy weggooi? Dit is nie die supermark nie, maar dit is die verskaffer.

Weereens, moet nie dink dat die supermark betaal vir enige iets wat jy terugvat nie. Dit is hoekom, selfs hierso, daar geen probleem is om jou TV wat jy vir ’n jaar lank gebruik het terug te gee nie. Jy het die produk al lank terug gekoop en jý het dit eintlik gebreek maar hy het nie ’n probleem om dit terug te vat nie, want hy betaal nie daarvoor nie. Hy gee dit net so terug vir die verskaffer as ’n krediet. Dit is vir my totaal verkeerd!

Tiaan: Die een ding wat ons nie moet vergeet nie is dat supermarkte doen ook hul goeie ding, hulle noem dit mos “convenience stores”, soos in Amerika. Daar is ’n sekere mate van gemak daaraan veral as jy vinnig iets wil kry. Om terug te kom by ons aanvanklike geselsie van hoe maak jý ‑ as jy ’n vars produkte, voedsel of drank besigheid het ‑ hoe bemark jy jouself as jy nie daai rakspasie het nie? Ek dink dit is wat ons vandag hieruit moet vat – jy moet jouself herontdek en ander metodes kry om jou produkte te bemark.

Jacques: Ja en dankie tog jy het opsies! Die internet bied jou daardie opsie om jou nismark te gaan kry en met kliënte ’n persoonlike verhouding te bou waar almal jou naam ken. Dit is die model van internet bemarking en epos bemarking en jy kan ’n gesonde marge maak in die proses. Natuurlik, soos jy sê, nie oormaat produseer nie maar genoeg om die vraag te bevredig.

’n Ander ding, Tiaan, wat ek wou by aansluit en wat vir my ’n fassinerende vraag is en vir die Klipkouers daarbuite – ek onthou met my Coca-Cola dae – al jou vinnig bewegende produkte soos jou lekkers en koeldranke word “impulse purchases” genoem. Dit is hoekom daai produk by die betaalpunt geplaas is want dit is nie iets wat jy beplan het om te koop nie. Ek is ’n bietjie verroes en kan nie die presiese persentasie onthou nie, maar ek dink dit was 70% of soiets, is “impulse purchases”. Nou is die vraag, ’n produk wat jy aanlyn bemark, daar is nie “impulse purchase” nie, is daar? Dit is nie ’n ding wat jy aan kan vat nie of so en dit is fassinerend ‑ die impak wat dit gaan hê op vinnig bewegende produkte ‑ ek praat nou van die internet en ja, dit is ’n hele gesprek op sy eie.

Ekskuus jy wou iets gesê het en ek het jou in jou rede geval.

Tiaan: Nee, nee ek dink jy het die punt gemaak.

Jacques: Die laaste ding ten opsigte van die bemarking. Ina Paarman het die produk oorsee geneem en as jy dink aan Suid-Afrika met ’n swak Rand, jy het ’n gehalte produk en nouja, hulle het natuurlik ’n fout gemaak om direk met die supermarkte besigheid te doen en die groot gevaar daarin is dat hierdie Europese supermarkte is van die grootste in die wêreld. Dus is die grootste gevaar dat jy nie genóég gaan produseer nie, inteendeel, dit is hul grootste bekommernis as hulle met jou besigheid doen. Dit is dus ’n kwessie van, kan jy genoeg produseer? Wat egter interessant is in hulle geval, het hulle gedink hulle het die bestelling en toe ’n magdom geproduseer en toe val die transaksie plat as gevolg van weersomstandighede en hier sit hulle met al die voorraad in Engeland.

Tiaan: Dit is maar weereens een van daardie lesse wat ’n mens leer in besigheid naamlik dat jy altyd ’n plan “B” moet hê en dit leer jou ook dat jy moet seker maak dat kontrakte stewig is en ’n behoorlike deposito kry vooraf sodat jy sekere van die verliese kan dra maar ja, ek glo hulle het daaruit geleer.

Jacques: Ja, absoluut en hulle plan “B” nouen hoe hulle te werk gaan, baie suksesvol, is hulle maak gebruik van ’n verkope en distribusie agent in Suid-Afrika wat dit doen op internasionale vlak. Ja, jy maak ’n bietjie minder geld maar jy werk met iemand daar in Kaapstad en toevallig het ek dieselfde persoon gebruik in my Parmalat jare as wat Ina nou gebruik in Europa en dit is baie maklik. Hy sit in die Kaap en jy doen besigheid met hom, jy stuur die produk na sy pakhuis toe en hy gaan smous dit oorsee en betaal jou.

Ons het daardie tyd vir Grant van Burfin gebruik vir Nigerië want ons wou nie sukkel om goed in Nigerië in te stuur nie.Ons wou net weet wat die adres is waar ons ons geld kon gaan haal as daar probleme is en ja, dit is ’n belangrike les vir enige iemand wat kyk na oorsese markte. Gaan kry vir jou ’n verkope en distribusie agent en begin klein en kry jou voet in die deur so en as daar dan ’n geleentheid is, gaan direk maar ten minste is die opsie daar. Die goeie nuus van ’n swak Rand is dit gee geleentheid vir wêreldklas Suid-Afrikaanse produkte en ja, daar is nog altyd ongelooflike produkte wat uit Suid-Afrika uitkom en ’n jammerte dat daar nie meer geleenthede op oorsese vlak is nie.

Tiaan: Ja nie almal van ons het die voorreg om ’n Ina Paarman handelsnaam te hê nie so ons word geforseer om behoorlike bemarking en verkooptegnieke toe te pas. Ek bedoel nie dat sy dit nie doen nie, maar die handelsnaam help baie. Byvoorbeeld, as jy instap in ’n winkel soek jy eintlik net ’n koeldrank om jou dors te les maar jy sê dadelik “coke” maar daar is tien verskillende gas koeldranke wat dieselfde of lekkerder proe maar die naam beteken so ongelooflik baie en as jy nie daai naam het nie dan moet jy seker maak dat jy genoeg tegnieke toepas om jou naam daar bo te kry.

Jacques: Absoluut. As ons kan opsom – as jy nie die handelsnaam het nie, moet jy die verhouding hê en dit is wat die internet ons toelaat ‑ om ’n verhouding te bou met ’n kliënt.

Tiaan, baie dankie vir jou tyd en lekker om te kon gesels.

Tiaan: Dankie, Jacques. Goed gaan.

NB! Indien jy verlede week se tweede onderhoud met Ina Paarman gemis het, gaan luister gerus nou: Kliek hier

Wil jy jouself of jou besigheid verbeter?

Dalk droom jy van jou eie besigheid?

Begin dan hier met my besigheidshulpbron eBoek 52 propvol praktiese en eksklusiewe besigheids-en lewenswenke!
Laai af
close-link