Naweek Nadink 24: Nee is Belangriker as Ja

neeDonderdag spring ek toe op ‘n trein Londen toe nadat ‘n potensiële kliënt my gevra het vir ‘n kwotasie om hul nuwe kommersiële kombuis skoon te maak.

Nie net is hy een uur laat vir die afspraak nie (gelukkig is dit nie die norm nie), maar twintig minute in die gesprek kom ek agter dat hierdie kliënt sy brood beide kante en op die rante gebotter wil hê…met konfyt. Hy is eerstens nie bereid om genoeg skoonmaakure toe te staan nie, maar wil nog boonop so min as moontlik betaal ook!

Vir die res van die dag was ek baie geïrriteerd omdat ek sewe ure van my dag gemors het aan ‘n swak potensiële klient. Ek was ook vies omdat ons nie vooraf beter huiswerk gedoen het om te bepaal of dit ‘n ideale kliënt is nie. As ons het, sou ek onmiddellik NEE gesê het vir die geleentheid.

My gedagtes:

  1. Kliënte wat die minste wil koop teen die laagste prys, is tyd- en energieparasiete. Hulle kla gewoonlik die meeste en het onredelike verwagtinge as bonus. Raak ontslae van hulle of maak seker jy kan hulle sien aankom en sê dan bloot NEE vir sulke kliënte.
  2. Dieselfde geld vir sekere kennisse/sogenaamde vriende wat tyd- en emosieparasiete is. Hulle is selfgesentreerd en stel glad nie belang in jóú doen en late nie. Jy hoor gewoonlik net van hulle as hulle iets nodig het. Sê NEE vir sulke mense.
  3. Belangrik maar omgekeerd; vir elke geleentheid of aktiwiteit waarvoor jy JA sê, sê jy NEE vir iets anders. Goed of sleg. Daar is net soveel wakkertyd in ‘n dag.

Lekker week en onthou…Aanhouer Wen!

 

Wil jy jouself of jou besigheid verbeter?

Dalk droom jy van jou eie besigheid?

Begin dan hier met my besigheidshulpbron eBoek 52 propvol praktiese en eksklusiewe besigheids-en lewenswenke!
Laai af
close-link