Naweek Nadink 27: Kameeldoringkool + Kaalvoet = Geboorteskenk

Naweek Nadink 27Twee weke na my verjaarsdagbraai kan ek nie behoorlik loop nie. Terwyl ek my braaier (fake Weber) bietjie geskuif het, trap ek toe mos op ‘n kameeldoringkooltjie (ek braai in styl hier in Engels-land). Die kooltjie brand toe ‘n baie seer en diep blaas, wat nou ‘n baie seer en diep gat in die bal van my voet geword het.

Tydens my voetkloppyne oor die naweek (nooit ideaal om jou hartklop in jou voet te voel nie!), word ek opnuut herinner hoe kragtig daai een kooltjie was as gevolg van sy intense fokus op een plekkie aan my voet. Ek dink toe ook aan die vuurlopernonsens by “opsaaik”-konferensies waar die grand finale ‘n trippel oor warm kole is. Daai kole is wydversprei, so ook jou liggaamsgewig oor twee voete. Met ander woorde, die brand en intensiteit word oral versprei en verloor impak en effektiwiteit.

Nog ‘n goeie voorbeeld is dié van ‘n vergrootglas wat die krag van die son kan fokus om vuur mee te kan maak. Jammer aan al die miere en goggas in ons Vrystaattuin wat gesneuwel het aan die hand van gefokusde sonkrag!

My gedagtes:

1.Daar is niks soos doelgerigte fokus om jou effektiwiteit en sukses te versnel nie.

2. Dink 80/20-beginsel – of eerder 90/10 in my geval en benadering.

3.Gaan lees The ONE Thing deur Gary Keller and Jay Papasan.

4. The One Thing in een sin: Bestee die eerste paar ure elke oggend om uitsluitlik op jou lewensdoel/belangrikste werk te fokus ten einde jou effektiwiteit en sukses te versnel.

5. Dra plakkies as jy jou braaier wil rondskuif.

 

Lekker week en onthou…Aanhouer Wen!

Wil jy jouself of jou besigheid verbeter?

Dalk droom jy van jou eie besigheid?

Begin dan hier met my besigheidshulpbron eBoek 52 propvol praktiese en eksklusiewe besigheids-en lewenswenke!
Laai af
close-link