Naweek Nadink 79: Maak jou kop en gemoed ligter in 2018

 

 

Eerstens wil ek jou en jou geliefdes ‘n voorspoedige 2018 toe wens!

Wat Januarie vir my altyd spesiaal maak (ten spyte van ‘n verkragte banksaldo), is die geleentheid om weer oor te begin. ‘n Geleentheid om op areas in my lewe en besigheid te fokus wat ek dalk afgeskeep het en natuurlik te bou op die goeie gewoontes en resultate van die vorige jaar.

Januarie is natuurlik ook die maand waarin ek Klipkouers Potgooi geloods het. Vandag is die tweede verjaarsdag van die potgooi!  Maandag 18 Januarie 2016 het die potgooi geloods met my eerste TV onderhoud op Die Groot Ontbyt asook my eerste potgooi onderhoud met rugby legende en koffiekoning, Kobus Wiese.

Dankie weereens vir jou ondersteuning tot dusver. Jy gee my moed om te volhard in hierdie jong, opwindende en vreemde digitale medium. Ek het groot planne vir die jaar, so hou asseblief hierdie spasie dop!

Wat die jaar vir my en my familie ekstra spesiaal maak, is ons terugkeer na Suid-Afrika na 14 jaar in Ingils-land. Ons land Februarie en is baie opgewonde om weer in ons land en tussen ons mense en kultuur te wees. Ek wil glo dat dit vir die meeste Suid-Afrikaners hoop sal gee dat ons nog steeds Suid-Afrika vrywilliglik kies, ten spyte van al sy groot uitdagings en mense wat immigreer. Die ligpuntjie is dat hierdie uitdagings juis innovasie forseer wat baie goeie nuus vir die land is.

Dit is dan juis gedurende hierdie oppak-tyd wat ek opnuut besef hoe baie onnodige gemors mens opgaar, maar meer belangrik, hoe al hierdie materiële goeters kop en emosionele spasie steel. Hoe kaler die huis word, hoe ligter begin ek voel… Ek dink die goeie gevoel het ook te make met die feit dat ons heelwat goed weggee en ons weet mos dis lekkerder om te gee as om te ontvang. Die grootse verrassing is dat ek nog niks mis nie!

Mag Januarie en Februarie vir jou die geleentheid bied om letterlik en figuurlik ‘n bietjie jou huis en kop te ‘springclean’. Mag jy ligter wees om vinniger te kan hardloop…in die regte rigting natuurlik.

Laat die wiele rol!

 

Moenie die volgende mis nie!

  • In my nuutste en eerste potgooi onderhoud van 2018, gesels ek met Sonja Smith, die stigter van Sonja Smith Funeral Group wat al verskeie besigheidtoekennings verower het. ‘n Gereelde gas op radioprogramme soos RSG en Jacaranda, het sy vrou-alleen nuwe lewe in ‘n baie moeilike en persoonlike industrie ingeblaas.

 

  • Die jongste uitgawe van my digitydskrif KLIPKOUERS het korporatiewe besigheidsikoon en Afrikaner-gentleman, Brand Pretorius, op die voorblad. Klik hier vir meer inligting.

 

Wil jy jouself of jou besigheid verbeter?

Dalk droom jy van jou eie besigheid?

Begin dan hier met my besigheidshulpbron eBoek 52 propvol praktiese en eksklusiewe besigheids-en lewenswenke!
Laai af
close-link